Baie gelowiges in gemeentes is passiewe lidmate aangesien hulle nog vasgevang is in leuens, sondes en verkeerde gewoontes. Hulle sien hulleself en leef as die produk van hulle sondige verlede. Vanweë al hierdie bagasie is hulle net nie in staat om uit te gaan en dissipels van Jesus te maak nie.
Die Oorwinnaarsbediening het die geloofsvisie om onder die salwing van die Heilige Gees mense te lei tot genesing en bevryding van leuens asook van hulle sondige en gebroke verlede. Wanneer hul identiteit in Christus gevestig is, kan hulle Geesvervuld uitgaan om dissipels van Jesus te maak.
Die Oorwinnaarsbediening wil gemeentes bystaan om ‘n kultuur te vestig waar Geesvervulde en toegeruste dissipels van Jesus Christus, genesing en bevryding in sy Naam bring aan mense wat nog vasgevang is in leuens, sondes en verkeerde gewoontes. Hieruit vloei ‘n droom om as gemeente soos volg te lyk:
- ‘n Bybelgetroue-gemeente waar elke lidmaat, oral en altyd, Geesvervuld vir die Here lewe en Sondae bymekaarkom vir feestelike aanbidding, opbou en toerusting in die suiwer Bybelse leer.
- ‘n Genesende- en Bevrydende-gemeente waar die kultuur is dat Geesvervulde en toegeruste dissipels van Jesus Christus, uitgaan en genesing en bevryding in sy Naam bring aan mense wat nog vasgevang is in leuens, sondes en verkeerde gewoontes.
- ‘n Omgee-gemeente waar Christene sewe dae van die week in daadwerklike liefde met mekaar kontak het en veral in liefdevolle meelewing en diensbaarheid met mekaar handevat in selgroepe en diensgroepe.
IN KORT: ‘N LEWE VAN OORWINNING!